Tuesday 17 September 2013

WAT ELKE BRUID HAAR FOTOGRAAF MOET VRA



 

Wat moet elke bruid haar fotograaf vra?

Deur Loftus Viljoen [Ngonyama Photography]

September 13, 2013. Pretoria-



Ek doen hierdie blog in Afrikaans omdat daar so baie jong voornemende bruide is wat gereeld vrae in Afrikaans vra:

Vir die meeste mense is die kosbaarste herinneringe aan hulle troudag hulle foto album  en herleef hulle daardie tydlose oomblikke oor en oor deur wanneer hulle na hulle trou fotos kyk.



Met my troudag in die laat 70’s was daar nie digitale fotos nie – ons fotograaf moes met film werk en elke film het ‘n maksimum van 36 fotos op gehad. Van al die fotos wat daardie dag geneem is kon ons “professionele” fotograaf slegs vir ons 15 foto’s gee want die meeste fotos het in die prosesserings fase verlore gegaan. Daardie jare het ons gepraat van “dit het nie uitgekom nie”.  Toe ek in 1997 my vrou weens kanker verloor het, het daardie 15 foto’s en die ander wat onsself geneem het nog meer kosbaar geword.

Vandag is elke ou met ‘n selfoon ‘n “fotograaf” en elke ou met ‘n digitale kamera ‘n “professionele fotograaf”.

Wanneer  ‘n afspraak met die fotograaf  gemaak word moet die bruid na die volgende kyk en vrae  vra:

 

1.       WIE KIES DIE FOTOGRAAF?

1.1.    Ons kry dikwels navrae vanaf die Moeder van die Bruid, die Moeder van die Bruidegom en baie keer van die Bruidegom en andere en wil hulle die trou fotografie “beheer” en reël en die Bruid moet maar sommer net inval met daardie reëlings en het sy geen sê nie. DIS VERKEERD!

1.2.    Die belangrikste persoon by die troue is die Bruid en sy moet op haar gemak wees DAAROM is die keuse van die fotograaf die BRUID s’n. Sy moet met die fotograaf/fotograwe kan saamwerk ongeag wie op die ou end daarvoor betaal.

2          

             WANNEER STEL JY JOU FOTOGRAAF AAN?

2.1.    In 1983 is ek vakansie in Oos  Londen en kry ‘n oproep van ‘n vriend enkele ure voor sy troue in Kids Beach en vra of ek hom nie kan uithelp met fotos nie want sy fotograaf het hom in die  steek gelaat. Ek het van my mooiste trou fotos daardie dag op die strand geneem.

2.1.1. Vandag kan enigiemand met ‘n selfoon of i-pad  fotos neem of  enige iemand met ‘n digitale  kamera, maar dit maak nie van hulle fotograwe in die werklike sin van die woord nie – hierdie mense kan jy sommer gou-gou in die hande kry. Hulle is ook gewoonlik die goedkoopste.

2.1.2. Die regte trou fotograwe is professionele mense en in baie  gevalle word hulle lank voor die tyd geboek.

2.2.    Die beste tyd om die regte trou fotograaf te kry is sodra jy ‘n datum vir jou troue vasgestel het.  As jy in die somer trou dan is goeie trou fotograwe soeveel as 12 maande vooruit bespreek en as dit in stiller tye is dan minstens 6 maande vooruit.

2.3.    Maak jou fotograaf lank voor die tyd  vas en met oorleg.            


3.       HOE KIES JY ‘N FOTOGRAAF?

3.1.    Hoe belangrik is jou trou fotos vir jou? As dit nie so belangrik is nie – dan vra eerder jou pêlle met hulle selfone en digitale kameras om jou trou fotos  te neem: dis sommer ook die goedkoopste.

3.2.    GOEDKOOP IS DUURKOOP:  Die grootste fout wat bruide maak is om die goedkoopste pakket te kies in plaas van die volgende vraag eerste te vra: “Wat wil ek hê” – elke bruid het ‘n prentjie in haar kop van hoe sy wil lyk op haar troudag en watter fotos van haar geneem moet word. ‘n Professionele fotograaf sal ‘n lys hê van al die “must have” fotos en watter fotos hulle voorstel geneem moet word. Werk eers deur die lys van fotos wat jy, as bruid, wil hê voordat jy jou pakket of album kies. Dit is onlogies en onrealisities dat jy  verwag jou fotograaf moet 600-1000 fotos van jou troudag moet neem en jy gaan slegs 60 fotos kan kies. Onthou vir professionele toerusting kos dit elkekeer meer as R1.00 as daardie kamera kliek. Om ‘n 1000 fotos te edit teen 3 minute per  foto gaan 50 ure se werk kos of jy die bepaalde foto gekies het of nie.  Onthou die meeste van die fotograaf se werk kom na die troue.

3.3.    INHUIS FOTOGRAAF OF NIE?  Baie  trou venues maak gebruik van die sogenaamde inhuis [in house] fotograwe, asook musiek joggies en bloemiste en voeg hulle dit in een “budget” pakket. As jy van so ‘n pakket gebruik wil maak kyk sorgvuldig na die vrae wat ons hierbo en hieronder aanraak. Onthou net daar is groot waarheid in die slagspreuk “if you want to pay peanuts you will get monkeys” – maak seker dat jy nie onrealistiese verwagtinge het nie en dan later lang trane op die sosiale media huil oor hoe jy  “ingedoen” is.

3.4.    Daar is honderde mense wat sê hulle is fotograwe en die maklikste is om hulle te vra of hulle ‘n webwerf het waarna jy kan gaan kyk oor hoe lyk hulle werk. As hulle nie ‘n webwerf het waar hulle hulle fotos vertoon nie dan moet die ROOI LIGTE alreeds vir jou aangaan.

3.5.    Dan mag hulle dalk ‘n Facebook bladsy hê – gaan kyk daarna.

3.6.    Dan vra hulle om ‘n voorbeeld van hulle portfolio vir jou voor te lê: iets soos ‘n album, ‘n DVD vertoning, en voorbeelde van  hulle werk wat hulle  in hulle pakket gaan insluit.

3.7.    ‘n Professionele fotograaf sal ‘n formele kontrak hê – vra om dit te sien  en lees dit  deur.

3.8.     ‘n Professionele fotograaf sal ‘n tweede fotograaf [‘n second shooter] hê om te help om foto’s uit verskillende hoeke te neem

3.9.    Maak seker dat jou fotograaf wel beskikbaar is vir die datum waarop jy trou – en vra hom/haar om dit skriftelik aan jou te bevestig.

3.10.‘n  Professionele fotograaf sal professionele toerusting hê – vra om dit te sien.  Alle professionele  fotograwe het backup kameras en dis geen verskoning as hulle vir jou sou sê hulle kamera het geval of gebreek of battery het onklaar geraak nie.

3.11.Vra hulle ook of jy een of twee van hulle onlangse kliente kan skakel om te hoor of daardie kliente gelukkig was met hulle dienste. Kyk sommer ook op Hello Peter of enige van daardie klae-blaaie of daar iemand was wat jou jou voorgenome  fotograaf geklae het. Die meeste klagtes wat ek lees gaan oor die aflewering van die finale prokdukte.

3.12.Vra vir hulle of hulle die venue ken en of hulle al vantevore daar afgeneem het – ‘n professionele fotograaf sal tyd spandeer om voor die tyd na die venue  te ry en te ondersoek waar die beste foto geleenthede is. ‘n Fotograaf wat ‘n paar minute voor die tyd by die diens/seremonie/onthaal opdaag om fotos te kom neem, sonder om vooraf sy/haar huiswerk te doen, is in my opinie nie ‘n professionele fotograaf nie.  

3.13.Vergelyk appel met  appels: kyk wat in jou fotograaf se pakket is en vergelyk dit met ander pakkette. Dit is maar net so – party fotograwe neem beter fotos as ander en party het net bloot eenvoudig ‘n beter produk om aan te bied.

3.14.Daar is niks beter as om ‘n fisiese album met jou trou fotos in te hê nie. ‘n Fisiese album voel net beter tussen jou vingers en daar is niks lekkerder as om elke bladsy met jou fotos te streel met jou hand nie.  Statisitek wys dat ‘n koffie tafel album meer aandag trek as ‘n DVD/CD met jou fotos daarop. Party foto albums is van hoër gehalte as ander – maak seker watter een jy gaan kry.

3.15.Vra hom in watter formaat hy/sy skiet. Is dit RAW of is dit jpg?  RAW fotos bevat baie meer inligting en pixels as ‘n jpg en daarom kry jy baie minder RAW fotos op ‘n geheue kaart as in jpg formaat. In jpg formaat gaan baie van die inligting verlore. In Raw is ‘n professionele fotograaf instaat  en beter  te edit en ‘n beter eindproduk te gee. Baie fotograwe gebruik egter die jpg formaat omdat hulle meer fotos op hulle kaarte kan kry en dus gebruik hulle minder kaarte/geheue.

3.16.As jy ongemaklik is met jou fotograaf se antwoorde dan moet jy weet dis rooi ligte wat aangaan – kies eerder ‘n ander een.

4.       VIR WATTER FOTOGRAWE MOET EK OPPAS?

4.1.    SCAMMERS & BEDRIEëRS:

4.1.1. “Goedkoop fotograwe” – hierdie is gewoonlik mense wat nie self ‘n portfolio het nie en dan ander fotograwe se fotos van die Internet  steel en maak of hulle dit self geneem het.

4.1.2. Onthou daar is ‘n gesegde wat sê: “If you pay peanuts, you will get monkeys”

4.1.3. Hulle sal dan ook ‘n goedkoop pakket aanbied van bv R1500.00 en jou ‘n deposito vra van bv R500.00 en dan hoor jy nie weer van hulle nie.

4.1.4. OF - Hulle is ook die mense wat  soveel as moontlik “goedkoop” kliënte kry en dan verkoop hulle jou kontrak aan ander  “genuine” fotograwe.

4.1.5. Fotograwe wat ‘n praktyk bedryf om soveel  “bookings” op hulle boeke te plaas en dan plaas hulle hulleself in so ‘n posisie dat hulle ontslae moet raak van hulle “goedkoopste”bookings.

4.2.    Fotograwe wat nie album of gedrukte fotos aan jou kan wys of beskikbaar wil stel nie – oppas vir fotograwe wat net fotos op DVD/CD plaas. 

5.       Net om fotograwe se kostes in perspektief te plaas gaan kyk na hierdie artikel  http://www.qqafricaphotography.blogspot.com/2012/06/costing-photo-shoot-or-assignment.html  ‘n Fotografie besigheid is ‘n duur besigheid en fotograwe kry nie  hulle kinders se skoolgelde, onderrig, vervoer of motor, kameras, lense, toerusting, versekering ensovoorts  verniet nie.  Dus wanneer iemand van BEKOSTIGBAAR praat moet hulle nie die fotograwe se kos uit hulle monde wil neem nie.
Hierdie is 'n riglyn om jong bruide te help.

 

©2013  Loftus